VERKENNERSBEWEGING
VAN
SUID-AFRIKA
Ons kan! Ons
wil! Ons sal!
www.verkenners.org.za
_______________________________________________________________
_______________________________________________________________
Mediaverklaring
OKOSA by Openbare Beskermer aangekla
Die Verkennersbeweging het
vandag ‘n klagte by die Openbare Beskermer ingedien teen die Onafhanklike
Uitsaaiowerheid, algemeen bekend as Okosa.
Dit volg op die soveelste
hofsaak wat dié instelling nou al deur die loop van jare teen Radio Pretoria
verloor het. Hierdie aanhoudende stroom
hofsake kos die staat, en dus die belastingbetaler, hope geld wat vir ander
meer sinvolle projekte aangewend kan word.
Die feit dat Okosa ook in die laaste geval Radio Pretoria se aansoek om
te mag uitsaai totdat sy hersieningsaak aangehoor word teengestaan het, word
vertolk as kwaadwilligheid en teisterend van aard teen die stasie, aangesien hy
na bewering ander radiostasies se soortgelyke aansoeke nie teengestaan het nie.
Die Verkennersbeweging het
ook in ‘n skrywe aan Okosa kennis gegee van die klagte wat gelê is, en hulle
verder daarvan beskuldig dat hulle uit pas is met riglyne wat deur die
Verenigde Nasies neergelê is, dat hulle uit pas is met wat in die
internasionale gemeenskap gebeur en dat hulle heksejag vertolk word as ‘n
poging om die Afrikaanse taal en kultuur en Christelike godsdiens te onderdruk.
Die korrespondensie aan
Okosa en die Openbare beskermer word hierby aangeheg.
Henk van de Graaf
PRESIDENT
Sel 083-4118229
VERKENNERSBEWEGING
VAN
SUID-AFRIKA
Ons kan! Ons
wil! Ons sal!
www.verkenners.org.za
_______________________________________________________________
_______________________________________________________________
2 Julie
2004
Die Openbare Beskermer
Faks 012 322 5093
Pretoria
Meneer
KLAGTE TEEN DIE ONAFHANKLIKE UITSAAIOWERHEID VAN SUID-AFRIKA (OKOSA)
Meegaande skrywe het ons aan Okosa gestuur waarin ons ons
griewe lug. U sal daarin ook sien watter
klagtes ons graag wil hê u moet ondersoek.
Kortliks kom dit daarop neer dat ons Okosa beskuldig van:
1. Wanadministrasie
deurdat geld gebruik word vir onnodige hofsake en dat die belastingbetaler
daardeur benadeel word.
2. Teistering
teen Radio Pretoria op grond daarvan dat hulle aansoek om te kan bly uitsaai
totdat hulle hersieningsaansoek aangehoor word, teengestaan word deur Okosa
terwyl Okosa na bewering nie soortgelyke aansoeke van ander radiostasies
teengestaan het nie.
Ons belang in hierdie saak is dat die lede van die
Verkennersbeweging van Suid-Afrika belastingbetalers is wat rede het om te glo
dat hulle belastinggeld verkeerd, dalk selfs kwaadwillig verkeerd, aangewend
word.
Voorts is die Verkennersbeweging van Suid-Afrika
ondersteuners van Radio Pretoria en ons is van mening dat daar sprake is van ‘n
heksejag teen die stasie en dat dit nie in openbare belang is om daarmee voort
te gaan terwyl sekere hofverrigtinge nog nie afhgehandel is nie, en dit nogal
met staats- en dus belastingbetalersgeld.
Ons verneem graag na die vordering in die verband.
Henk van de Graaf
PRESIDENT
VERKENNERSBEWEGING
VAN
SUID-AFRIKA
Ons kan! Ons wil! Ons sal! www.verkenners.org.za
_______________________________________________________________
_______________________________________________________________
1 Julie
2004
Die Direkteur
Onafhanklike Kommunikasie
Owerheid van SA
Faks 011 4482186
Johannesburg
Dit is reeds geruime tyd
dat ons u organisasie monitor ten opsigte van besluite en optredes rakende die
toestaan van lisensies.
Veral u besluite en
optredes ten opsigte van Radio Pretoria se lisensie aansoeke is vir ons
kommerwekkend. Meer nog, vir ons wil dit
voorkom of u met ‘n teisteringsveldtog teen dié radiostasie besig is, dat u nie
in pas is met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika nie, dat u nie in
pas is met internasionale riglyne rakende inheemse volke en minderhede nie, en
dat u boonop op flagrante wyse kosbare belastingbetalersgeld mors en uself
daardeur sou skuldig maak aan wanbestuur.
In daardie opsig gun ons u
die nederlaag wat u nou weer in die Pretoriase Hooggeregshof op die lyf geloop
het op 30 Junie 2004 toe u vir die soveelste keer in ‘n hof in die ongelyk
gestel is en aanspreeklik gehou word vir die kostes.
Hierdie saak gaan ons
onder die aandag van die Openbare Beskermer bring met die versoek dat u
organisasie ondersoek moet word vir kwaadwillige teistering van Radio Pretoria
in besonder, aangesien u ander radiostasies se versoek om, hangende hulle
hersieningsaansoeke, te mag bly uitsaai na bewering nie teengestaan het nie
maar Radio Pretoria wel; dat u met sinnelose hofsake, waarvan die gemiddelde
man vooraf kan weet dat u nie ‘n saak het nie, soos reeds begin het met die
hofsaak wat Radio Pretoria teen u gewen het oor die Afrikaanse taalgebruik en
steeds voortduur en weer eens geblyk het op 30 Junie vanjaar. Daardeur mors u belastingbetalersgeld teen ‘n
geweldige tempo, en dan het u nog die vermetelheid om by die parlement aan te
klop om u begroting met etlike miljoene rande aan te pas! Hierdie sake gaan gewis onder die Openbare
Beskermer se aandag gebring word.
Ons beskuldiging dat u nie
in pas is met die Grondwet van die land nie word berus op art. 9(3) waarin die
staat verbied word om op enige manier te diskrimineer teen enige persoon nie,
en art. 16 (1) wat die vryheid van uitdrukking waarborg. Ons vertolk u optrede as ‘n poging om mense
met bepaalde taalvoorkeure, kulturele en godsdienstige sieninge, wat niemand
benadeel nie, se reg op uitdrukking deur ‘n bepaalde media-instelling te
onderdruk.
Voorts bepaal die VN se Subkomitee
oor Inheemse Volkere dat elke sodanige volk, ongeag sy grootte, die reg het op
eie media. Dat hierdie reg reeds
internasionaal (behalwe skynbaar in Suid-Afrika) toegepas word, blyk uit ‘n verslag van die
die Subkomitee op die Voorkoming van Diskriminasie en Beskerming van Minderhede
onder die titel: “Study on the Rights of Persons belonging tot Ethnic,
Religious and Linguistic Minorities”. U
is dus uit pas met internasionale opvattings, tendense en praktyke.
Voorts is Radio Pretoria
reeds 10 jaar toegelaat om uit te saai.
Hierdie toestemming het gedeeltelik van u gekom, en gedeeltelik is u
deur die howe opdrag gegee om hulle toe te laat. Dit laat ook die vraag ontstaan of daar nie
reeds ‘n gemeenregtelike situasie ontstaan het in die guns van Radio Pretoria
nie. Nou, na 10 jaar, wil u met alle mag
en mening inklim om die stasie van die lug te haal op grond van redes wat ons
werklikwaar verbyster.
Aan die ekonomiese
implikasies het u skynbaar ook nie gedink nie, naamlik die talle mense wat werkloos
gaan raak, BTW wat die staat gaan verloor omdat advertensies gaan verval ens.
ens.
Indien u wel aan al
hierdie aspekte gedink het, bevestig dit ons beskuldiging aan u dat u
kwaadwillig is teenoor Radio Pretoria en dat u optrede neerkom op teistering.
Aangesien Radio Pretoria
in baie opsigte ‘n versinnebeelding is van die Afrikaanse taal en kultuur en
Christelike geloof, moet u optrede in die breër sin ook gesien word teen elke
landsburger wat hom- of haarself daarmee vereenselwig.
Die verlede het al bewys
dat u u skynbaar nie steur aan proteste wat ontvang word nie, maar ons het tog
gevoel om u in te lig oor ons sienings en ons beplande optrede in die toekoms.
Henk van de Graaf