VERKENNERSBEWEGING

                                                VAN

                                                SUID-AFRIKA

Ons kan!  Ons wil!  Ons sal!                                     www.verkenners.org.za

_______________________________________________________________

 

VERKENNERSPRESIDENT, POSBUS 732, RAYTON 1001

_______________________________________________________________

 

20 September 2004

 

MEDIAVERKLARING

 

Die Verkennersbeweging van Suid-Afrika het die naweek tydens sy volle Verkennerraadsvergadering besluit om ‘n omvattende aksie van stapel te stuur om volkstrots te herstel en te bevorder.

 

Daar is gevoel dat veral die jeug vanaf skool- en universiteiteitsvlakke sodanig onder valse skuldgevoelens geplaas word en van hulle kultuur gestroop word, dat hulle daarna in hulle volwasse lewe nie by volksaksies betrokke raak nie en in wese vervreem word van hulle herkoms.  Behalwe vir die materialisme het hulle verder ook geen toekomsvisie vir hulleself of hulle nasate nie.

 

Die Verkenners is tans besig om beknopte riglyne op te stel oor hoe volkstrots weer gevestig kan word.  Sodra dit eersdaags voltooi is sal dit na Verkennersposte en ander belangstellendes gestuur word.

 

Die Transvaalse Verkenners het as deel van hierdie projek 100 Afrikaanse geskiedenisboeke geskenk vir pryse aan leerlinge wat op skool besonder presteer het.  Soortgelyke aksies word reeds etlike jare suksesvol deur Utrecht se Verkennerspos gevoer en nou het die geleentheid ontwikkel om dit landwyd uit te brei.  Skole wat hieraan wil deelneem is welkom om met die Verkenners kontak te maak.

 

‘n Tweede projek onder die volkstrots-aksie is die opstel van ‘n semantiek-woordeboek.  Dikwels word vreemde begrippe en terme netso in ons volksmond oorgeneem en daarop gemik is om ons volkstrots af te breek.  Sodra dit voltooi is sal dit ook beskikbaar gestel word en oorhandig word aan politieke, kulturele en vakbondleiers wat hulle dikwels moontlik onbewus skuldig maak aan die gebruik van van hierdie afbrekende terme.

 

Laastens het die Verkennerraad gevoel dat sy strukture daadwerklik uitgebou moet word en dat hy sy rol as kultuurwaghond meer doelgerig en aggressief moet uitoefen.  Vir die doel sal kundiges binne die Beweging binnekort aangestel word om as woordvoerders oor verskillende aspekte hulle woord te doen, raad te gee en aksieplanne aan die hand te doen.

 

Henk van de Graaf

PRESIDENT