ONTSTAAN EN GESKIEDENIS
Kleinfontein se ontstaan kan teruggevoer word na die saamtrek van duisende Afrikaners
in 1988 op ‘n plaas oos van Pretoria om die 150ste herdenking van die Groot Trek
te vier. Afrikaners is verras met die ongerepte plaas van 500 ha slegs 30km vanaf
Pretoria. Te meer omdat op hierdie plaas die Bittereinders bly voortveg het vir
die vryheid van hulle volk gedurende die laaste paar jaar van die 2de Vryheidsoorlog.
Dit is op hierdie plaas waar die slag van Donkerhoek plaasgevind het en die historiese
begraafplaas van die gesneuweldes van die Engelse magte geleë is. Latere jare is
`n gedenkteken bokant die begraafplaas opgerig vir die Boere wat terwille van hulle
volk nie opgegee het nie.
Tussen 1988 en 1992 het dit duidelik geword dat die regering uiteidelik die mag
aan die swart meerderheid gaan oorhandig sonder dat daar enige voorsiening gemaak
word vir die voortbestaan van die Afrikanervolk.
Toe die betrokke plaas in 1992 op die mark kom, het twee versiende pioniers die
groot waagstuk aangegaan om `n lening op te neem om die plaas te koop vir `n kerngebied
vir die Afrikaners in die hartland van die ou Boere Republieke. Dadelik is nog twee
volkspatriotte ingetrek en het die viermanskap begin om aandeelhouers te betrek
om te help om die lening terug te betaal en die ontwikkeling van die grond af te
kry.
Die eerste jare , was jare van stryd maar ook die jare waarin die room van ons volk
hulle gewig agter Kleinfontein gegooi het. Elke maand moes die paaiement betaal
word en is geraap en geskraap om dit by te bring en die plaas in die hande van ons
volk te hou.
Die eerste jare was ook die jare waarin die beginsels prakties vasgelê is van `n
volk wat vry wil word – die basiese beginsels van `n volksgerigte instelling, van
`n volkseie regstelsel, van `n volksdemokrasie en bowenal van volkseie arbeid.
Die pioniers het in die tyd nie alleen hulle spaar en pensioengeld in hierdie droom
belê nie, maar het ook hulle tyd, kragte en energie kosteloos beskikbaar gestel
om Kleinfontein te ontwikkel.
In 1994 is voldoende aandeelhouers gewerf om die lening te diens en kon begin word
om dienste te verskaf. Die eerste twee permanente huise wat volledig vanaf fondament
tot dak met volkseie arbeid gebou is, is in 1996 voltooi en twee gesinne het die
eerste permanente inwoners van Kleinfontein geword.
Daarna het Kleinfontein teen `n ongekende tempo begin groei, verdere erwe en hoewes
is uitgepen, huise is oral gebou en jonk en oud het ingetrek. Die eerste baba is
op Kleinfontein gebore en die eerste huwelik tussen twee Kleinfonteiners is voltrek.
Radio Pretoria het sy uitsaaitoring op Kleinfontein opgerig, sportvelde is aangelê,
`n volkseie skool is opgerig, `n spaar en krediet koöperasie het verrys,`n gemeenskapsaal,
sorgsentrum en aftreehuise het gevolg asook `n winkelkompleks met `n outobank.
Die bevolking het gegroei sodat daar vandag ongeveer 900 Afrikaners bedags op Kleinfontein
bedrywig is waarvan ongeveer 650 inwoners is en ongeveer 400 aandeelhouers.
Kleinfontein het ook in oppervlakte gegroei vanaf die oorspronklike 500 ha tot die
huidige 860 ha. Vandag strek Kleinfontein van net duskant die N4 snelweg tot anderkant
die Boschkop teerpad. In hierdie gebied is dit slegs Afrikanerhande wat van die
mees nederigste werk tot die mees gekompliseerde werk uitvoer en kan daar met waarheid
gesê word dat hierdie grond volksgrond is omdat dit slegs deur hierdie volk beset,
beveilig, bewoon en bewerk word .